KULTUUR

KULTUUR as woord kom van die Latyn cultus en cultura. Dit hou verband met colere wat ’n verskeidenheid van betekenisse het: omploeg, bebou, bewoon, versorg, versier, dien, vereer. Van die opdrag om kul­tuur te skep, lees ons reeds in Gen 1:26 en 28: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see ” En Gen 2:20 verwys na die be­gin van die uitvoering van hierdie opdrag toe die mens name begin gee het. As verteenwoordiger van God op aarde, het die mens die taak om die moontlikhede in die skepping te ontsluit en te ontgin. Ten einde dit te kán doen, is die mens met skeppings­vermoëns toegerus. Daarmee is die kultuur­arbeid van die mens in God se plan met die historiese verloop van die wêreld en die geskiedenis van die mens se verblyf alhier, opgeneem en gesanksioneer (vgl Ef 2:10). Kultuur is ’n omvattende begrip – dit behels die ganse geestelike besitting van ’n volk of ander groep(ering) op elke terrein. Dit omvat al die aspekte van die mens se dink en doen, al sy bemoeienisse met die kosmos in watter vorm ook al. In die ondermaanse hou dit nooit op nie. “Die kultuur is die rustelose en vloeibare, die gedurige hervorming en herskepping van die geestelike waardes van die mens” (NP van Wyk Louw). Vir die Christengelowige is dit ’n roeping om aan God gehoorsaam te wees deur kultuur te skep.

Vir verdere lees: Eeufeeskommissie 1971. Besinning en uitsig. Potchefstroom: GKSA. JA Heyns 1986. Teologiese Etiek 2/1. Pre­toria: NGKB.

Sidebar