KULTUURPROTESTANTISME

KULTUURPROTESTANTISME of libe­rale Protestantisme beskryf die kritieklose samevloeiing van kontemporêre kultuur* en ’n Christelike lewenswyse – die kultuur word opgeneem in die Christelike lewens­wyse en godsdienstige taal en die radikale andersheid van ware Christelike dissipel­skap* word verwater. “Christendom*” is dan ’n kultuurverskynsel eerder as uitdrukking van ’n geloofsgemeenskap en die onderskeid tussen kerk* en samelewing* ver­dwyn. Volgens Barth* is kultuurprotestan­tis­me ’n denkhouding waarvolgens die Christendom (spesifiek die koninkryk* van God) en kultuur* gelykgestel is. In kort het dit beteken: om ’n goeie Duitser te wees, was om ’n goeie Christen te wees. Hiervol­gens neem die Christendom nie meer die “kultuur van Christus” as hulle vertrekpunt nie, maar die eietydse kultuur. Dit is ’n Christendom wat slegs lippediens lewer aan die belydenisskrifte* en geloofbelydenis* van die kerk* terwyl hulle hulle lewe inrig na gelang van die eise, waardes en behoeftes van hulle eietydse kultuurwêreld.

Die term het in die laat-19de en vroeg-20ste eeu in Duitsland ontstaan waar die tradisionele konserwatiewe en antimo­dernistiese Lutherse* bevolking die burgerlike samelewing gedomineer het, maar ge­konfronteer was met ’n veranderde wêreld met nuwe waardes. Daar is toe probeer om ’n Christelike lewenswyse te versoen met die kontemporêre kultuur van die Weimar-republiek (Duitsland) en die nuwe invloede van demokrasie* en indiwiduele vryheid. Kultuurprotestantisme beskryf die teologiese denkskole wat hierdie integrasie probeer bewerkstellig het – veral beïnvloed deur teoloë soos Albrecht Ritschl, Ernst Troeltsch en Adolf von Harnack*. Onder die invloed van Emmanuel Hirsch se nasio­nalisme* en idees oor ’n volkskerk* het dit daartoe bygedra om Hitler* se nasionaal-sosialisme* teologies te regverdig. Teoloë soos Karl Barth en Dietrich Bonhoeffer* het kultuurprotestantisme grondig gekritiseer.

 

Sidebar