KUYPER, ABRAHAM

KUYPER, ABRAHAM (1837–1920) sorg vir die grootste oplewing van die klassieke gereformeerde* Protestantisme* in Neder­land sedert die bloeityd daarvan in die 16de en 17de eeu. Dit is hy wat deur sy toesprake en geskrifte die man op straat of die “kleine luyden” teen die laat-19de vroeg-20ste eeu mobiliseer vir die herstel van die gereformeerde kerke, vir Christelike onderwys op alle vlakke, ’n Christelike vakbond­wese en ’n Christelike politieke party in Ne­der­land. As leier van die Anti-Rewolu­sio­nêre Party is hy van 1901–1905 die minister-president (eerste minister) in ’n koalisie­kabinet.

Hy is inisieerder en medestigter van die Vrije Universiteit* in Amsterdam in 1880, ’n universiteit wat vry van staats- en kerklike inmenging wou wees en hom wou beywer vir Christelike onderwys en wetenskap. In 1871 word hy die hoofredakteur van ’n weekblad, De Heraut, en ’n jaar later ook van ’n dagblad, De Standaard. Dit stel hom in staat om deur honderde artikels sy idees aan die “kleine luyden” te kommunikeer. In 1874 word hy parlementslid. In 1886 is hy een van die sentrale figure in die Dolean­sie* wat eventueel uitloop op die ontstaan van die Nederlandse Gereformeerde Ker­ken uit die Nederlandse Hervormde Kerk. Kuyper is op die voorpunt as hierdie kerke in 1892 verenig met ’n groot deel van die Christelike Gereformeerde Kerk – ’n kerk wat uit die Afskeiding van 1834 kom – om die Gereformeerde Kerken in Nederland te vorm.

Sy invloed bly nie tot Nederland beperk nie. Sy teologiese publikasies word ook gelees en nagevolg in Europa, die Britse Eilande, Kanada en die VSA, Suid-Afrika en die Ooste.

Die verandering in Kuyper wat as ’n mo­dernistiese of liberale dominee in Leiden opgelei word, kom in sy eerste gemeente Beesd waar hy sedert 1867 werk. Op aandrang van ouderlinge en veral ’n eenvoudige huisvrou, Pietje Baltus, begin Kuyper Calvyn* lees. Hierdeur word hy gewen vir die Calvinisme* of gereformeerde Prote­stan­tisme.

Kuyper se denke word gekenmerk deur die “antitese” tussen reg en verkeerd of ge­hoorsaamheid en ongehoorsaamheid aan God wat hy op elke lewensterrein identifi­seer. Hy beywer hom vir die eer van God op elke lewensterrein omdat daar volgens hom “geen duimbreedte” van die lewe is wat nie aan Christus* behoort nie. Hy on­der­skei egter ook tussen algemene genade* en besondere genade* op so ’n manier dat eersgenoemde feitlik selfstandig teenoor laasgenoemde te staan kom en daarom nie onderworpe is aan die radikale en omvattende impak van sonde* en verlossing/redding* soos die Bybel* leer nie.

Sidebar