KWAAD WORD (WOEDE)
KWAAD WORD (WOEDE) is ’n reaksie wat in die Nuwe Testament* soms beskou word as ’n simptoom van die ou “vleeslike” bestaanswyse in teenstelling met ’n Geesbeheerde lewe (bv Gal 5:13-25). In ander omstandighede waarsku Paulus* gelowiges om nie te sondig of te gaan slaap wanneer hulle wel kwaad is nie (Ef 4:26-27). Jesus* se woede in die tempel* (Mark 11:15 en volgende verse) dui egter daarop dat Christene se selfbeheersing nie tot ’n apatiese en onbetrokke optrede, soos by die stoïsyne (Kyk by: Stoïsisme), moet lei nie. Trouens, die selfbeheersing wat Christene behoort te openbaar, is nie soseer die gevolg van ’n goeie gewoonte wat hulleself aankweek en van hulle goeie mense maak soos Aristoteles en die stoïsyne geleer het nie. Dit kom eerder op uit die nuwe geheiligde identiteit wat God aan hulle in Christus* skenk. Hulle het egter die verantwoordelikheid om ook ooreenkomstig hierdie nuwe identiteit op te tree.