KWASIZABANTU

KWASIZABANTU (Zoeloe vir “die plek waar mense gehelp word”) is ’n geloofsbediening (Kyk by: Geloofsending) wat veral bekend is vir hulle gasvryheid. Eerw Erlo Stegen het hierdie werk in 1966 begin. Op ’n plaas tussen Greytown en Stanger voed die sending* tans elke dag gemiddeld 1 200 mense, waaronder ongeveer 130 voltydse vrywillige medewerkers met hulle families, en 150 tydelike helpers. In Suid-Afrika is daar reeds tientalle buiteposte en  substasies gevestig. Ook in die buiteland is takke. Met boerderyprojekte en allerlei bedrywe probeer die bediening om selfversorgend te wees. Gereelde konferensies vind in die ouditorium plaas waar duisen­de mense kan vergader. Verder is daar allerlei skole, asook ’n gemeenskaps-radiostasie, Radio Khwezi (Zoeloe vir “Môrester”), op kwaSizabantu gevestig. Die sending reik ook met die evangelie* uit na talle behoef­tiges oraloor.

Vir verdere lees: E Stegen 1998. Revival Among the Zulus. Kranskop: Kwasizabantu Mission.

Sidebar