KWEEKSKOOL/SEMINARIUM/FAKULTEIT, TEOLOGIESE, STELLENBOSCH

KWEEKSKOOL/SEMINARIUM/FAKULTEIT, TEOLOGIESE, STELLENBOSCH. Op 1 Nov 1859 is die ou Drosdy-gebou aan die bokant van Dorpstraat in Stellenbosch amptelik as ‘n plek vir teologiese opleiding geopen. Predikante van die NG Kerk is tot in daardie stadium meestal in Nederland opgelei. Daar was egter ‘n groeiende gevoel dat uitbreidings in die kerk plaaslike teologiese opleiding regverdig, en die wantroue teenoor die invloed van die sg “liberale teologie” in Nederland het ook ‘n rol gespeel om die aandrang op teologiese opleiding in Suid-Afrika te versterk. Die eerste twee professore aan die Teologiese Seminarium (of Kweekskool) was prof John Murray* (die broer van die bekende Andrew Murray jr*) en prof Nicolaas Hofmeyr*. Murray en Hofmeyr sou saam met Johannes Neethling*, ‘n predikant van die NG Kerk Stellenbosch, verder ‘n reuse bydrae lewer tot die stigting van verskeie onderwys-instellings op Stellenbosch.

In Mei 1916 word Johannes du Plessis* die sewende hoogleraar aan die Seminarium (die vorige ses was – naas Murray en Hofmeyr – proff JI Marais, PJG de Vos, CFJ Muller en AA Moorrees). Du Plessis het die blad Het Zoeklicht in 1923 begin en die gedagte was om daarmee ‘n ondersoekende lig op teologiese sake te laat val. Sy kollega, prof EE van Rooyen (wat in 1919 beroep is en Ou Testament en Apologetiek doseer het), was sterk krities oor die rigting wat Du Plessis ingeslaan het, en hy was instrumenteel om ‘n nuwe blad, Die Ou Paaie, te begin wat ‘n teenstem laat hoor het. Ook lede van die Kuratorium was bekommerd oor Du Plessis se Skrifbeskouing en sy aanvaarding van die evolusieleer. Die gevolg was dat Du Plessis in 1928 van “onregsinnigheid” aangekla is. So begin die uitgerekte Du Plessis-saak wat ook in die openbare pers heelwat aandag getrek het. Hoewel die ring* aanvanklik vir Du Plessis van die klagte vrygespreek het, word hy by ‘n buitengewone sinodesitting skuldig bevind. Ten spyte van die feit dat daar ook steun vir Du Plessis onder sy kollegas en studente was, gee hy in Maart 1930 sy laaste lesing. Du Plessis sou egter hierna die kerk dagvaar en in Jan 1932 beslis die hof in sy guns, maar hy het nie weer by die Kweekskool klas gegee nie en is in 1935 oorlede.

In die nadraai van die Du Plessis-saak het ‘n tipe konfessionele (of konfessionalistiese) Calvinisme* ‘n groter houvas gekry. Hiervolgens moes ‘n sekere verstaan van de Calvinisme en die belydenisskrifte as bolwerk dien teen wat as gevaarlike “-ismes” beskou is (soos die modernisme*, die liberalisme*, die Rooms-Katolisisme en die kommunisme*). Die gevolg was dat daar nie vir ondersoekende en kritiese denke veel plek gelaat is nie. Prof BB Keet*, wat in 1919 beroep is, sou egter ‘n ander rigting inslaan as sy kollegas. Hy was meer ekumenies ingestel, met ‘n openheid vir nuwere rigtinge in die teologie. Keet sou later bekend word vir sy kritiese stem teen die Bybelse regverdiging van apartheid*. Sy boek, “Suid-Afrika waarheen?”, wat in 1956 gepubliseer is, het dan ook ‘n storm ontketen. Sy kollegas, prof GBA Gerdener (wat eiesoortige ontwikkeling voorgestaan het, maar nie van die word “apartheid” gehou het nie), en prof FJM Potgieter* (wat apartheid teologies regverdig het), het Keet se boek krities geresenseer. Keet het in 1959, die jaar van die Kweekskool se eeufeesvieringe, demissie ontvang. In 1963 word die Teologiese Seminarium ‘n fakulteit aan die Universiteit van Stellenbosch.

Die oud-studente en dosente aan die Kweekskool sou deur die jare behoorlik hulle merk op die Suid-Afrikaanse kerklike en sosio-politieke gebied maak. Onder die studente tel DF Malan*, wat in 1948 eerste minister geword het en wie se naam met die beleid van apartheid geassosieer word, asoos CFB (Beyers) Naude wat in 1963 uit die NG Kerk getree het en ‘n groot rol in die stryd teen apartheid gespeel het. Vandag heet een van die sentra aan die Fakulteit die Beyers Naude-sentrum vir Publieke Teologie. Prof NJ (Nico) Smit*, eens ‘n voorstander van apartheid, het mettertyd ‘n skerp kritikus daarvan geword en in 1982 die daad by die woord gevoeg, uit sy professoraat in Sendingwetenskap* bedank en predikant van die NG Kerk in Afrika* se gemeente Mamelodi geword. In 1990 het prof WD (Willie) Jonker ook aandag getrek toe hy by die Rustenburgse Kerkberaad* om verskoning vir apartheid gevra het. Die NG Kerk se amptelike afvaardiging na die beraad, almal oudstudente van die Kweekskool – PC Potgieter*, DJ Hattingh*, P Rossouw* en FM Gaum – het Jonker se skuldbelydenis onomwonde (“unequivocally”) gesteun. Pieter Potgieter, die seun van FJM Potgieter, was destyds ook die moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk. Jonker se skuldbelydenis is tydens die beraad deur die Anglikaanse aartsbiskop, Desmond Tutu*, aanvaar – wat ‘n groot opskudding veroorsaak het. Op ‘n ander vlak was Dawie de Villiers*, latere ambassadeur en minister, tydens sy studiejare aan die Kweekskool ook kaptein van die Springbok-rugbyspan! Die tydperk na 1990 is by die Teologiese Fakulteit gekenmerk deur groeiende internasionalisering op akademiese gebied en vandag geniet die Fakulteit wye internasionale erkenning. Oudstudente soos Vincent Brummer*, Wentzel van Huyssteen* en Dirkie Smit*, is onder meer as professore by gesiene oorsese teologiese instellings aangestel.

‘n Belangrike mylpaal in die geskiedenis van die Fakulteit was toe daar in 2000 ‘n ooreenkoms met die Verenigende Geref Kerk in Suider-Afrika (VGKSA)* gesluit is waarvolgens studente van die VGKSA voortaan op Stellenbosch opgelei sou word. Kort daarna (in 2002) het die Uniting Presbyterian Church of South Africa (UPCSA) ‘n soortgelyke besluit geneem. Die Anglican Church of Southern Africa (sedert 2012) en die Volkskerk van Afrika (sedert 2016) erken ook die opleiding binne die Fakulteit. Vandag kan die Fakulteit met sy gerefomeerde wortels tereg as ‘n ekumeniese fakulteit beskou word. Daar is ook ‘n sterk fokus op Afrikanisering binne die Fakulteit, en heelwat van die nagraadse student kom uit die res van Afrika.

In 2009 het die Fakulteit sy 150 jarige bestaan feestelik gevier. Ten tye van hierdie viering was prof Elna Mouton* die dekaan. Sy is opgevolg deur prof Nico Koopman*, wat in 2018 die vise-rektor vir Personeel, Transformasie en Sosiale Impak aan die Universiteit Stellenbosch is. In 2017 is prof Reggie Nel as nuwe dekaan aangestel nadat prof Hendrik Bosman geruime tyd as dekaan waargeneem het. Binne die universiteitswese en kerklike en publieke lewe het prof Russel Botman*, wat in 2000 van die Universiteit Wes-Kaapland by die Fakulteit aangesluit het, ook diep spore getreap. Ten tye van sy skielike dood het Botman as rektor en vise-kanselier van die Universiteit Stellenbosch gedien. Dit is deel van die Fakulteit se visie om diversiteit te vier en om die kerk en samelewing deur uitnemende teologiese navorsing en professionele opleiding te dien.

Lees ook:
Coertzen, P 2009. “Teologie Stellenbosch 150+: Die verhaal van teologiese opleiding op Stellenbosch – die mense en die geboue”, Wellington: Bybel-Media.
Ferreira, IL 1969. “Die Teologiese Seminarium Stellenbosch 1858-1959”, Kaapstad: NG Kerk-uitgewers.

(Kyk ook by: Eerste afgestudeerdes)

 

Sidebar