KWYTSKELDING

KWYTSKELDING is die leer dat Chris­tus* se dood sondaars hulle sonde* kwyt­skeld en hou verband met die verstaan van hilastérion (Grieks*) vir die versoendeksel in die Allerheiligste – die deksel waarop die hoëpriester* die bloed van die offer* sprin­kel as ’n teken van vergifnis van Israel* se sondes op die Versoendag*. In die verwy­sing na Christus se dood as ’n hilastérion (Heb 2:17, 1 Joh 2:2; 4:10 en veral Rom 3:25), is “versoendeksel” ’n metafoor*. “Versoen­dek­sel” word ’n simbool en setel van die vers­oening wat Christus se dood tussen God en sondaar teweegbring. Soos die bloed van die offer kwytskelding van sonde teweeggebring het, so ook Christus se dood – nie net vir Israel nie, maar vir almal.

Maar hoe werk kwytskelding van sondes? Vroeër is gevra of kwytskelding as die uitwissing van sondes (“expiation”) óf as voldoening (in die plek van sondaars) aan die straf oor sonde (“propiation”) verstaan moet word. Tans word geoordeel dat dié twee sienings baie na aan mekaar is. ’n Be­langriker vraag is of kwytskelding in terme van plaasvervangende offers verstaan moet word. Breytenbach argumenteer dat Pau­lus* kwytskelding nie so verstaan nie, daar­om gebruik hy hilastérion so selde. Veel meer sentraal in die versoeningsleer staan die begrip van Christus as gesant. Meeste uitleggers is nie deur dié argument oortuig nie, en die tradisionele verstaan van kwyt­skelding teen ’n agtergrond van die offerkultus geniet steeds die meeste steun.

Vir verdere lees: C Breytenbach 1989. Versöhnung: Eine Studie zur paulinischen Soteriologie (WMANT 60). Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag. JM Gundry-Volf 1993. “Expiation” in: GF Hawthorne (red), Dictionary of Paul and his Letters. Downers Grove: IVP.

Sidebar