LAASTE AVONDMAAL/AWENDMAAL

LAASTE AVONDMAAL/AWENDMAAL is die tradisionele naam vir Jesus* se laaste maaltyd op die vooraand van sy kruisiging*. Ons kan die historiese verloop van hierdie maaltyd, wat in die bokamer van ’n goedgesinde Jerusalemse huiseie­naar plaasgevind het, nie meer noukeurig rekonstrueer nie.

Volgens Johannes* het Jesus deur die aanvanklike voetwassing aan sy volgelinge ’n aangrypende demonstrasie van praktiese liefdesdiens gegee. Die Sinoptiese Evange­lies* beskryf die maaltyd self as ’n Paasete, maar volgens Johannes sou die Paasmaal­tyd* eers die volgende aand plaasvind (Joh 18:28). Daarteenoor het Jeremias* die korrektheid van die Sinoptiese weergawe oortuigend aangetoon. Vermoedelik gebruik Johannes ’n ander feeskalender (Kyk by: Kalen­ders) om Jesus as God se sterwende Paas­lam af te ets teenoor die Joodse* Paaslammers wat terselfdertyd by die tempel* ge­slag is.

Volgens die Joodse Paasvoorskrifte moes hierdie herdenking van die uittog* ’n be­son­dere feestelike karakter vertoon – onder meer met spesiale disse en vier feesbekers wyn*. Ná die gebed voor die hoofmaaltyd breek Jesus soos gewoonlik die brood, maar voeg hierdie keer veelbetekenend daarby: “Neem dit, dit is my liggaam” (Mark 14:22). Daarmee sê Hy aan sy dissipels* dat, net so seker as wat hulle die brood gaan eet, net so seker kry hulle aandeel aan die vrug van sy komende kruisdood. Eweneens verbind Hy die wyn van die derde beker aan sy plaas­bekledende sterwe en verbondsvernu­wing. Terselfdertyd verklaar Hy plegtig dat Hy sy volgende feesbeker eers weer saam met hulle sal drink aan die voleindingsfees. Al vier Evangelies plaas die uitwysing en weg­sending van die verraaier, asook die verloëningsaankondiging, tydens hierdie maaltyd.

Met die slotwoorde van die Paaslofsang nog op sy lippe (Mark 14:26), was Jesus reeds onderweg na Getsemane: “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde* is daar geen einde nie” (Ps 118:29). (Kyk ook: Maaltyd van die Here en: Nagmaal)

Sidebar