LAASTE DAE

LAASTE DAE het volgens Heb 1:1-2 aangebreek met Jesus* se koms en God se spreke met die wêreld deur Hom. Op Pink­sterdag* sê Petrus* dat die Heilige Gees* se uitstorting in die “laaste dae” geskied (Hand 2:17) as vervulling van Joël 2–3. Vol­gens 1 Joh 2:18-27 is die optrede van vals pre­dikers en antichriste* binne die kerk* ’n aanduiding van die “laaste uur”. Die “laaste dae” is dus die era wat aangebreek het met Jesus se koms, en wat voortduur ná sy dood tot by sy wederkoms*. Dit kan ook genoem word die “Jesustyd”. Net soos 1 Johannes aan sy lesers gesê het dat dit nou die laaste uur/dae is, geld dit vandag nog steeds vir ons. Die siening van sommige dat daar onderskei moet word tussen “die eindtyd*” en die “laaste dae” as ’n besondere tyd waar­in sekere tekens (wat bv in Openbaring genoem word) in vervulling sal tree, is moeilik verdedigbaar. Die swaar tye wat in Op 11–13 in simboliese taal be­skryf word, asook die visioen van die bin­ding van Satan* vir duisend jaar* in Op 20:2-7, dui volgens die meeste uitleggers op die hele tyd tussen die eerste koms en Chris­tus* se wederkoms, en is nie net ’n aparte kort tyd aan die einde van die laaste dae nie. “Eindtyd” en “laaste dae” is dus sinonieme, twee benamings vir dieselfde saak. (Kyk ook: Tekens van die tye.)

Sidebar