LAGERKVIST, PÄR FABIAN

LAGERKVIST, PÄR FABIAN (1891–1974) is in die suidelike Sweedse provinsie Smaland gebore as die jongste van sewe kinders. Hy het grootgeword in ’n diep godsdienstige huis … en sou altyd in sy romans, kortverhale, gedigte en essays soek na die aard van goed en kwaad, én na geloof. Hierdie soeke word juis vergestalt in Barabbas, wat in 1950 gepubliseer is en nadat dit die Nobelprys vir Letterkunde gewen het, in baie tale vertaal is, ook in Afrikaans* deur Hymne Weiss. Lagerkvist beeld Barabbas, die man wat in Jesus* se plek vrygelaat is (Matt 27:26), uit as iemand wat ná sy vrylating sy lewe lank geworstel het met Jesus. Dit word ’n studie van ’n “gelowige sonder geloof”. In 1962 is ’n rolprent oor dié boek gemaak met Anthony Quinn in die hoofrol. Lagerkvist se eerste boek het verskyn toe hy 21 was – Männis­ken – en sy laaste toe hy 76 was – Mariam­ne, oor die vrou van Herodes*1 die Grote wat hy vergiftig het. Skryf was Lagerkvist se lewensdrif – op ander gebiede van die lewe het hy as alleenloper ’n bietjie van “’n vreemdeling in Jerusalem” gebly. Hy kan beskou word as die grootste Sweedse skrywer van die middel-20ste eeu.

Sidebar