LAKE, JOHN GRAHAM

LAKE, JOHN GRAHAM (1870–1935) is in Kanada gebore en het in die Verenigde State van Amerika grootgeword. Hy begin sy bediening as ’n Metodisteprediker (Kyk by: Metodisme) en wend hom later tot die versekeringsbedryf waar hy groot finansiële sukses behaal het. Nadat sy vrou in 1898 wonderbaarlik van tuberkulose genees is, sluit hy hom aan by Alexander Dowie se “Zion Catholic Aposto­lic Church”. In 1907 word hy met die Hei­lige Gees* gedoop en ondergaan ’n geestelike ommekeer.

Hy verkoop al sy sakebelange en wend hom voltyds tot die bediening. In 1908 kom hy na Suid-Afrika waar hy as die “Apostel van Afrika” legendariese bekendheid ver­werf vir sy geloofsgenesings. Tydens sy verblyf in Suid-Afrika stig hy twee van die land se invloedrykste Pinksterkerke. Die een kerk ontwikkel later in die Zion Christian Church* (ZCC) en word die grootste Christelike kerk in Suid-Afrika. Die ander tak het in 1910 bekend geword as die Apostoliese Geloofsending* van Suid-Afrika. Lake se volgelinge maak daarop aanspraak dat hy duisende wonderwerke in Afrika verrig het. In 1912 keer hy terug na Amerika waar hy nog verskeie kerke stig en voortgaan met geloofsgenesing.

Vir verdere lees: Gordon Lindsay (red) 1981. John G Lake: Apostle to Africa. Dallas: Christ for the Nations.

Sidebar