LAM VAN GOD

LAM VAN GOD kom as tegniese term hoofsaaklik in die Johannes*-geskrifte voor. In Israel* se godsdienstig-kultiese lewe word die lam, sonder gebrek, besonderlik gebruik as offerdier*. In Jes 53 kry dit veral ’n Messiaanse* karakter. Johannes die Do­per* gebruik spesifiek hierdie betiteling in Joh 1:29 om Jesus* te identifiseer.

In Openbaring* staan die Lam hoofsaaklik in eskatologiese* (“leer van die laaste dinge”) konteks. Die geslagte Lam is nou in die Nuwe Jerusalem* (21:9-10), op die Sionsberg (14:1), op die troon*. Hy is die lamp van die stad (21:23), en vorm met God die tempel* (21:22). Dáár word Hy knielend aanbid en geloof met ’n nuwe Moses*lied (15:3) deur vier wesens, vier en twintig ouderlinge en diegene wat Hom gevolg het, wie se klere in sy bloed witgewas is, wat deur bloed die draak oorwin het, wat gekoop is. Hulle is die bruid van die Lam, genooi na die bruilof van die Lam (19:7, 9). Die Lam breek die seëls om die boek van die lewe te open (Op 6:1). So word diegene bekend wat gely het, gemartel is, getrou was en tog oorwin het, maar ook diegene wat teen Hom oorlog gemaak het en daarom die Lam se toorn sal ervaar. Die Lam tree dus eers op as Plaasbekleër, as Offerdier sonder gebrek, en in laaste instansie as Regter*.

 

Sidebar