LANDMAN, WILLEM ADOLF

LANDMAN, WILLEM ADOLF (1909–1986) is op Waaiheuwel in die distrik Alexandria gebore. Ná sy teologiese studie op Stellenbosch, is hy in 1934 gelegitimeer. Hy bedien die NG gemeentes Port Eliza­beth en Bethal as hulpleraar en was leraar van Murraysburg (1937–1940), en Swartland (Malmesbury) (1940–1958). In 1958 word hy die eerste direkteur van inligting van die Kaapse Kerk, en beklee hierdie pos tot met sy emeritaat in 1978. Hy het 30 jaar lank as skriba van die Kaapse Sinode* gedien. In 1970 het hy voorsitter van die kommissie van die Algemene Sinode geword wat benoem was om ’n omvattende ondersoek na rasseverhoudings in die lig van die Skrif* te doen. Die “Landman-verslag” soos dit aan die Algemene Sinode van 1974 voorgelê is, is egter op belangrike punte geamen­deer, en was op die ou end as die goedge­keurde Ras, volk en nasie in die lig van die Skrif baie minder krities oor die destydse apartheidsbeleid* in kerk* en staat* as wat die aanvanklike stuk wou hê. Landman is in die konteks van sy tyd as “verlig” beskou. In 1977 is ’n eredoktorsgraad deur die Univer­siteit van Stellenbosch aan hom toegeken. Hy het ook die Orde vir Voortreflike Diens (Klas Silwer) van die staatspresident ontvang.

Sidebar