LANFRANC

LANFRANC (1005–1089) studeer aanvanklik in die regte. In ongeveer 1035 het hy weens politieke redes na Frankryk verhuis. In 1045 het hy in Bec kloosterhoof geword en die skool wat hy gestig het, tot opbloei gelei. Van sy leerlinge was Ivo van Chartres, Anselmus* en die latere pous* Aleksander II. Hy was in konflik met Berengarius van Tours wat ongelukkig was oor Lanfranc se instemming met Paschasius Radbertus* se opvatting oor die nagmaal*. In 1063 is hy benoem as ab* van die klooster* in Caen. Hy het die belangrikste raadsman van Willem van Normandië geword, wat hom ná die verowering van Engeland aangestel het as die 34ste aartsbiskop van Kantelberg* (1070). In hierdie hoedanigheid het Lanfranc belangrike hervormings aangebring, ook ten opsigte van die kloosterwese. Hy het ’n noue verhou­ding tussen kerk* en staat* voorgestaan en goeie kontak met Rome onderhou. Ansel­mus het hom as aartsbiskop van Kantelberg opgevolg, soos hy hom ook as kloosterhoof in Bec opgevolg het. Lanfranc was een van die knapste kerkleiers van sy tyd.

Vir verdere lees: JRH Moorman 1954. A History of the Church in England. Londen: A & C Black. Encyclopaedia Britannica, deel 14. Edinburgh: A & C Black.

Sidebar