LANGE, JAN HENDRIK

LANGE, JAN HENDRIK (1906–1978) was by sy tydgenote bekend as die welspre­kendste debatvoerder in die Wes-Kaapse Sinode van die NG Kerk* wat ’n saak met groot oortuigingskrag kon stel – onder meer vanweë sy deeglike voorbereiding. Hy en die destydse aktuarius* van die sinode*, dr Koot Vorster, het meermale op die sinodevloer “swaarde gekruis”, hoewel hulle persoonlike verhouding goed was. Deur sy toedoen is die knoop deurgehak wat tot die totstandkoming van Bybelkor* in 1971 gelei het.

Lange is in die distrik Kenhardt gebore en word in 1933 gelegitimeer. Hy bedien die gemeentes Lady Grey (1934), Riversdal (1940), Kuilsrivier (1943), Theunissen (1948) en weer Riversdal (1953). Ná Lange se eme­ritaat in 1974 word hy skakelbeampte van die Hugenote Kollege op Wellington en samel groot bedrae in vir die kollege se beursfonds. Hy was tydens sy bediening lid van ver­skeie sinodale kommissies. Dit sluit die diens van barmhartigheid in (van 1961–1971 as voorsitter), asook die eksa­men­kom­missie van die Kweekskool*.Talryke briewe van Lange het in Die Kerkbode en dagblaaie verskyn waarin hy behoudende standpunte ingeneem het. Hy het onder meer skerp gebots met die destydse eerste minister, mnr John Vorster*, oor regeringwerk op Sondag.

 

Sidebar