LANGENHOVEN, CORNELIUS JA­COB

LANGENHOVEN, CORNELIUS JA­COB (1873–1932) is op Hoeko in die distrik Ladismith gebore. Die taalmedium in sy skooldae en aan die destydse Victoria­kollege op Stellenbosch was Engels, maar een van sy mentors, Meester Bloemkolk, het hom ook in Hollands onderrig. Hy het in 1899 sy LLB behaal en is later met Magda­lena van Velden van Ladismith (Wes-Kaap) getroud. Langenhoven se enigste kind, Engela, is in Desember 1901 gebore en het saam met “Vroutjie” in verskeie van sy boeke gefigureer. Langenhoven het lank as pro­kureur op Oudtshoorn gepraktiseer en was vanaf 1912 redakteur van Het Zuid-Westen waar hy sy passie vir die erkenning van Afrikaans* voortgesit het. Binne ’n maand ná sy verkiesing as provinsiale raads­lid in 1914 is Langenhoven se mosie oor moedertaalonderwys aanvaar. Met sy verkiesing as senator in 1921 het Langen­hoven hom ook in die parlement vir Afrikaans as amptelike landstaal beywer. Dit het op 8 Mei 1925 gebeur.

Langenhoven het toenemend besef dat hy die Afrikaners* moes leer lees. Hy het van April 1922 af die weeklikse rubriek “Aan stille waters” in Die Burger hanteer, en gewoonlik elke jaar twee boeke gepubliseer. Sy letterkundige nalatenskap is ná sy dood in sestien boekdele gepubliseer. Dié publikasie het onder leiding van sy Joodse koerantkollega en vriendin, Sarah Goldblatt, verskyn.

Langenhoven se bekendste gedig is Die Stem* wat steeds deel van die Suid-Afri­ka se Nasionale Lied vorm. Hy was in wese diep godsdienstig, hoewel nie noodwendig in die konvensionele sin van die woord nie. Van sy beste werke in geestelike konteks was Skaduwees van Nasaret en Die mantel van Elia. Vir hom was die Bybel “die siel van die Afrikaanse taal”, wat onder meer uiting vind in sy bekende gepubliseerde lesing Die letterkundige skoonheid van die Bybel. Langenhoven se godsdiens­tige oortuigings, maar ook sy besondere waar­nemingsvermoë, groot intellek en humorsin, kom in heelwat van sy bekende spreuke tot uiting. Hy het in 1931 ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Stellenbosch ontvang.

Sidebar