LAODISEA

LAODISEA was ’n bekende en vooruitstrewende hawestad, geleë op ’n belangrike handelsroete aan die Lukos-rivier, suid van Kolosse* en Hierapolis. Dit was die hoofstad van Frigië* in die noordweste van Klein-Asië. In die Nuwe Testament* is dit bekend as die laaste van die sewe stede en gemeen­tes* in Openbaring* (1:11; 3:14-22). Die be­sonder negatiewe beskrywing van hierdie “lou” gemeente, met verwysings na salf en klere, het te doen met sekere aspekte van die stad se geskiedenis. In die mediese skool, ’n bekende instelling in die stad, is oogsalf uit Frigiese poeier gemaak. Swart wol van skape uit die omgewing is gebruik om klere te weef. Daar was ook ’n bedui­dende aantal Joodse* inwoners, wat sou verduidelik waarom die Christendom* uit­ein­delik ook daar wortel geskiet het.

Paulus* en Epafras* het ’n besondere band met gelowiges in Laodisea gehad. Pau­lus vra in sy brief aan Kolosse dat sy korrespondensie ook in Laodisea voorge­lees moet word (Kol 4:15-16; vgl ook 2:1). In ongeveer 60 nC is dit deur ’n aardbewing verwoes en toe deur die inwoners met hulle eie geld herbou – sonder die gebruiklike hulp van Rome (Romeinse Ryk*). Slegs die ruïnes van die stad bestaan vandag nog.

 

Sidebar