LAS CASAS, BARTOLOMÉ DE

LAS CASAS, BARTOLOMÉ DE (1474–1566) was ’n vroeë menseregte-aktivis – soms genoem die “vader van die bevry­dings­teologie*”. Hy is in 1474 in Spanje ge­bore in ’n ryk gesin en het na die Amerikas gekom as regsadviseur van die goewerneur van Hispaniola. Aanvanklik het hy soos die ander koloniste die werkers op sy plantasie uitgebuit. In 1510 het hy ’n geestelike verdieping beleef en hom as priester*2 laat oplei. Met verloop van tyd het Las Casas besef dat die koloniste se optrede teenoor die Indiane gebots het met die Christelike boodskap, en hy het al hoe meer begin opstaan teen die stelsel van uitbuiting waarvan hy eers deel was. Hy het heen en weer oor die Atlantiese Oseaan gereis om die Spaanse regering tot nuwe insigte te bring. Las Casas het ’n groot openbare debat in Spanje georganiseer en selfs teen die kus van Venezuela ’n “ideale kolonie” begin waar die plaaslike Indiane met mens­waardigheid behandel is – maar het ook onder hewige kritiek van die koloniste deurgeloop. In 1544 is Las Casas aangestel as biskop* van Chiapa, maar hy moes weens teenstand drie jaar later terugkeer na Spanje waar hy tot met sy dood as kampvegter van die Indiane opgetree het.

 

Sidebar