LASARUS

LASARUS is die Griekse* weergawe van die Hebreeuse* Eleasar* wat beteken “God het gehelp”. Die naam kom twee keer in die Nuwe Testament* voor.

  1. ‑Die naam word simbolies in die gely­kenis* van die ryk man en Lasarus ge­bruik (Luk 16:19-31). Hier is Lasarus aanvanklik ’n bedelaar by die ryk man se deur. Die twee se rolle word omgeruil wanneer hulle albei sterwe. Lasarus kry ’n ereplek by Abraham*, maar die ryk man verkeer in die doderyk* in pyn. Aan­ge­sien dit ’n gelykenis* is wat ’n be­paalde punt wil maak, kan al die besonderhede nie letterlik opgevat word nie.
  2. ‑Hy was ’n inwoner van Betanië*. Jesus was klaarblyklik ’n gereelde gas by Lasarus en sy susters, Marta/Martha* en Maria*5 (Joh 11:1-44). Lasarus word siek en sterf toe Jesus oënskynlik nie betyds opdaag nie. Wanneer Hy wel ná vier dae daar aankom, wek Hy Lasarus uit die dood uit op. Hierdie opwekking uit die dood kry ’n dieper betekenis deurdat dit heenwys na Jesus se eie dood en opstanding* uit die dood.
Sidebar