LATIMER, HUGH

LATIMER, HUGH (circa 1485–1555) is in ongeveer 1510 as priester*2 gewy. Hy het baie waardering vir Luther* se leerstellings gehad, en is van kettery* aangekla omdat hy hom in preke teen die leerstelling van die vaevuur* en die verering van die heiliges uitgespreek het. Hy is geëkskommunikeer, maar het hom in 1532 aan die gesag van Rome onderwerp. Desondanks het Cran­mer* ’n lisensie aan hom uitgereik om ’n preek voor Henry* VIII te lewer, maar eers nadat Latimer omsigtig geadviseer is oor hoe hy dit moet aanpak. Hy is in 1535 as biskop* van Worcester aangestel, maar het in 1539 uit sy setel bedank uit protes teen wetgewing (die Six Articles) wat moes verhoed dat die leerstellings van die Hervor­ming* verder versprei. Toe koningin Mary* in 1553 aan bewind kom, is hy gevang en saam met Cranmer en Ridley Oxford toe gestuur om hulleself te verdedig teen teoloë van Oxford en Cambridge. ’n Kom­missie oor kettery het Latimer daarvan aangekla dat hy die leer van transsubstan­siasie* en die gesag van die pous* verwerp. Hy is skuldig bevind aan kettery en geëks­kommunikeer. Ná die verhoor het hy saam met biskop Ridley op die brandstapel gesterf. Bundels met sy preke is gedurende Elizabeth I se bewind gepubliseer: Twenty Seven Sermons (1562), en Faithful Sermons (1571).

Sidebar