LAW, WILLIAM

LAW, WILLIAM (1686–1761) studeer aan Cambridge, maar sy weiering om George I as wettige koning te erken, diskwalifiseer hom, as ’n “Nonjuror”, vir diens in die Engelse staatskerk. Van 1737 af wy hy sy lewe aan die onderwys en versorging van minderbevoorregte kinders. Van sy invloed­rykste geskrifte was Christian Perfection (1726), Serious Call to a Devout and Holy Life (1728) en Case of Reason (1732), ’n logies-beredeneerde aanval op die Deïsme*. Toe­ne­mend bekoor deur mistici (Kyk by: Mis­tisisme) soos Jacob Boehme, beweeg hy weg van rasionele argumentasie in diens van die geloof*, en skryf sy merkwaardige Ap­peal to All those who Doubt the Truths of the Gospel (1740). Hierdie werk is hoog aangeslaan deur CS Lewis*, wat weer op sy beurt vir JJR Tolkien beïnvloed het. Law se geskrifte het ’n belangrike invloed uitgeoefen op verskeie leiers van die Evangeliese Op­wek­king. Weliswaar het hulle die reg­ver­digmaking deur die geloof* en die blye ver­se­ke­ring van kindskap baie meer as Law beklemtoon, maar sy hoë standaarde van toewyding aan Christus* was steeds die agtergrond waarteen hulle die boodskap van verlossing verkondig het. Andrew Mur­ray*2 het ook groot waardering vir Law ge­had.

Vir verdere lees: DL Jeffrey 1987. A Burning and Shining Light. English Spiritu­ality in the Age of Wesley. Grand Rapids: Eerdmans.

Sidebar