LE BOUCQ, ENGELBERTUS FRANCISCUS

LE BOUCQ, ENGELBERTUS FRANCISCUS (1675–1748) is in Tubeke, Brabant, België gebore. Hy studeer wysbegeerte aan die Universiteit van Leuven en word diep geraak deur die prediking van ’n Prote­stantse* garnisoenpredikant. Hoewel hy as Bernadynse monnik* georden is, ervaar hy soveel twyfel as hy die mis* moet bedien, dat hy na Rotterdam vlug. Hy word lidmaat van die Waalse Kerk te Dordrecht. Ná ’n kort verblyf aan die Kaap in 1703, vertrek hy na Batavia om in 1707 benoem te word as leraar van die Hugenote* te Drakenstein. Weens die gebrek aan ’n geskikte pastorie, kerkgebou, ’n begraafplaas en ’n Hollandse voorleser, weier Le Boucq om in Draken­stein te bly. Op sy aanbeveling is Herman Bosman as sieketrooster* benoem. Hy kies hewig kant teen WA van der Stel*, die waar­nemende goewerneur JC d’Abeling, en verskeie sieketroosters. Hy ontslaan eie­magtig Van der Stelgesinde kerkraadslede, plaas hulle onder sensuur en werf steun met die wapen in die hand. Wanneer hy tot verantwoording geroep word, stel hy ’n klagskrif op oor die “Kaap de Verwarde Hoop”. Hy word na Batavia gestuur en ontvang ’n teregwysing van die Classis Amster­dam. Hy word later weer predikant in Ceylon (tans Sri Lanka) en van die Portu­gees­sprekende gemeente van Batavia.

Vir verdere lees: CJ Beyers (hoofred) 1981. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, deel 4. Pretoria: RGN.

Sidebar