LE FLEUR, ANDRIES ABRAHAM STOCKENSTRÖM I

LE FLEUR, ANDRIES ABRAHAM STOCKENSTRÖM I (1867–1941) was van 1890 af kaptein van die Griekwas*. Hy is ook “die Hervormer” genoem. Hy was so ’n opstandige vuurvreter dat die Britse koloniale regering hom as ’n bedreiging vir die vrede beskou het. In 1898 is hy tot 14 jaar gevangenisstraf in die Breekwatertronk in Kaapstad gevonnis, waarvan hy 5 jaar uitgedien het toe hy in 1903 vrygelaat is. As ernstige Christen* het hy in die tronk bekeringswerk gedoen en kore op die been gebring. Die koorsang wat daaruit ontwikkel het, is ná sy vrylating deur die Griekwas as volksbesit oorgeneem. Sy en sy voorsate se opstand is begryplik: Nadat die Boererepubliek van die Oranje-Vrystaat die ryk diamantvelde van Griek­waland-Wes in 1871 aan Brittanje moes af­staan omdat die Griekwas deur die wets­agent David Arnot omgepraat is om Enge­land te versoek om die grond tot Noord-Kaap­se protektoraat te verklaar, het die Britte die diamante gevat en die Griekwas hulle grond en vryheid ontneem. ’n Poging deur Adam Kok III om sy 2 000 volgelinge, 300 waens en 20 000 stuks vee in die Oos-Kaapse niemandsland te vestig, het misluk. Die gebied, wat Griekwaland-Oos genoem is, met die hoofstad Kokstad, is in 1874 deur die Britse koloniale regering geannekseer en Kok is van sy kapteinskap onthef. Sewe jaar later het die Griekwas weer teen Britse oorheersing gerebelleer, en weer het die militêre dit met geweld onderdruk.

 

Sidebar