LEBONE, MOCHUBI JOSEPH

LEBONE, MOCHUBI JOSEPH (1931–) is in die distrik Bultfontein in die Vrystaat gebore en groei in Wesselsbron op. Hy be­haal st 6 (graad 8), en verwerf sy matriek na-uurs. In Bloemfontein verwesenlik hy sy ideaal en voltooi sy onderwyserskursus. Hy bly in die onderwys tot 1963 en hou skool op Koppies, Heilbron en Odendaalsrus. Die roeping na die bediening kry die oorhand en hy skryf in vir die leraarskursus aan die Ned Geref Teologiese Skool op Witsieshoek. In 1968 word hy as leraar bevestig in die gemeente Huhudi (Vryburg) van die NG Kerk in Afrika (NGKA)*. Met sy ervaring en natuurlike gawe van leierskap neem hy van meet af leiding in die ring* van Huhudi en die sinode* van Pho­roro. Pas ná sy eerste Algemene Sinode in 1971 word hy as aktuarius* aangewys; in 1978 as assessor (ondervoorsitter) en van 1979–1985 is hy moderator*. Nadat die Hooggeregshof die afsonderlike voortbestaan van die NG Kerk in Afrika ná die totstandkoming van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK)* bevestig het, dien hy onverpoosd as moderator. Hy woon etlike ekumeniese* konferensies by en dien ook as ampsdraer in die Federale Raad van NG Kerke. Lebone beywer hom vir kerk­eenheid sónder die aanvaarding van die Belydenis van Belhar*, maar word mettertyd deel van die eenwordingsproses in die NG Kerkfamilie* wat Belhar wel as deel van die herenigde kerk se belydenisbasis sou aanvaar sonder dat die onderskrywing daarvan verpligtend sou wees.

Sidebar