LEERDWALING

LEERDWALING is ’n afwyking van “die suiwer leer” van die geloof* soos wat dit deur ’n bepaalde geloofsgemeenskap bely word. Hairesis (Grieks*) verwys oorspronklik na leerstellings van filosofiese skole. Pau­lus* gebruik die term om na ’n verdelende groep binne die Christendom* te verwys, en in die Vroeë Kerk* verwys dit na ’n afwy­king van die teologie* en belydenis* van die kerk. Leerdwaling veronderstel die bestaan van die volgende: 1. ’n suiwer leer wat die sentrale waarhede van die Bybel* formuleer en afbaken; 2. die bestaan van kriteria waar­volgens afwykings van die basiese geloofs­waarhede aangedui kan word, en 3. ’n ge­magtigde kerklike liggaam wat namens die geloofsgemeenskap kan beoordeel of so­da­nige afwyking aanwesig is.

In die Katolieke* tradisie is hierdie drie sake geïnstitusionaliseer wat die uitwys van leerdwaling eenvoudig maak. In die Pro­testantse* tradisie vind sodanige institusio­nalisering nie plaas nie en is die identifise­ring van leerdwaling ’n moeilike en inherent debatteerbare saak. Die belydenisskrifte* is ’n manier waarop daar gesê word wat bin­ne hierdie grense val en wat afgewys word. Binne die Protestantisme bestaan ’n tradisie van voortdurende teologiese besinning oor die manier waarop die Bybelse verhale en beginsels nuut vertaal kan word in nuwe omstandighede. Teologiese arbeid hou daarom altyd die risiko van die klag van leerdwaling in, omdat dit hierin juis daar­oor gaan om dinge nuut te sê vir nuwe tye en omstandighede.

Sidebar