LEESROOSTER

LEESROOSTER is ’n geordende seleksie van Skrif*gedeeltes met die oog op die voorlees daarvan in die openbare erediens*. Dié seleksie van gedeeltes (perikope) word normaalweg in ’n tabel gerangskik. Die keuse van die gedeeltes geskied op een van drie maniere: as opeenvolgende lesings, as semi-opeenvolgende lesings of as geïsoleerde gedeeltes vir ’n spesifieke doel. Dié lesings is gewoonlik geskoei op ’n kalender of die kerkjaar*. Behalwe vir die gebruik daarvan in die voorlesing in eredienste, kan dit ook vir die prediking* gebruik word.

’n Verskeidenheid leesroosters het sedert die tyd van die kerkvader Origines* ontwik­kel. Verdere ontwikkelings van leesroosters het in die Middeleeue, Reformasie* en daar­na gevolg. Van die bekendste leesroos­ters is die “Missale Romanum” van 1570, wat eeue lank in die eredienste van die Katolieke Kerk* gebruik is. In 1969 het laasgenoemde plek gemaak vir die “Ordo Lectionum Missae”. Dit is die vrug van jarelange voorbereiding en bestaan uit ’n leesrooster vir drie jaar met drie lesings per Sondag. In die onderskeie jare is Matteus/Mattheus*, Markus* of Lukas* sentraal met die Johan­nes*-Evangelie wat oor die drie jaar verdeel is.

Sedert die 1970’s is daar in Noord-Ame­rika talle variante op die “Ordo Lectionum Missae” ontwikkel, met die bekendste die “Common Lectionary” wat in 1992 hersien is en bekend staan as die “Revised Com­mon Lectionary” (RCL). Dit is waarskynlik die leesrooster wat die wydste in die wêreld gebruik word.

Vir verdere lees: RH Fuller 1995. “Lec­tionary” in: Concise Encyclopedia of Preach­ing. Louisville: Westminster. M Nel en J Nel 2006. “Die Revised Common Lectionary” in: Leesrooster gebaseer op die kerkjaar, 2006. Stellenbosch: Buvton.

 

Sidebar