LEFÈVRE D’ÉTAPLES, JACQUES

LEFÈVRE D’ÉTAPLES, JACQUES (1455–1536) is ’n Franse akademikus wat hom in die literêre werke van die klassieke Griekse en Romeinse oudheid verdiep het. Hy word hierin onder meer geïnspireer deur die Renaissance* wat ná die Middel­eeue van oorheersing deur die Katolieke Kerk* in Europa volg. Die klem val in die Renaissance op ’n teruggryp na die ou bron­ne én op die waardigheid van die mens. By Lefèvre stimuleer dit ’n studie van die oudste beskikbare tekste van die By­bel*.

Nog vóór Luther* kom hy in 1509 tot die slotsom dat die mens – anders as wat die kerk van sy tyd leer – uit genade* deur ge­loof* gered word. In 1512 gee hy ’n Latynse vertaling en kommentaar op die Psalms* uit. In 1523 publiseer hy die Nuwe Testa­ment* in Frans. Onder sy studente in Parys en Meaux tel latere bekende figure in die Hervorming* soos Guilluame Farel* (1489– 1565), terwyl Johannes Calvyn* (1509–1564) hom in 1534 in Nerac, die plek waar Lefrève twee jaar later sterf, opsoek.

Die Katoliekgesindes in Frankryk sorg dat sy werke in 1525 verban word. Hyself verkry egter asiel teen vervolging van die suster van Koning Frans I, Margareta van Navarre.

Sidebar