LEKGANYANE, ENGENAS

LEKGANYANE, ENGENAS (?–1948) van die Zion Christian Church* (ZCC) het hom onderskei as een van die talentvolste Afrika-kerkleiers. Hy is gebore uit die familie van Barnabas Mat­se­leng Lekganyane en Sefore Marobathota Raphela by Thabakgone, in die gebied van hoofman Mamabolo in die Limpopo-pro­vinsie. Hy het sy laerskoolopleiding aan die Matlhanthe-skool ontvang, waarna hy Johan­nesburg toe is.

In 1924, nadat hy die roeping ontvang het om in God se wingerd te arbei, het hy die ZCC gestig. Teen 1925 het dié kerk 926 belydende lidmate gehad, teen 1943 40 000, en in 2015 is die Zion Christian Church* die grootste Christelike denominasie in Sub-Sahara-Afrika – die ledetal staan op miljoene. Biskop Lekganyane het die ZCC ontwikkel tot ’n kontekstuele (Kyk by: Kontekstualisering) Afri­ka­kerk wat gebruike, rituele en tradisies uit Afrika* in die kerklike lewe opgeneem het. Afrikane* wat by die ZCC aan­sluit, ervaar nie dat hulle van hul­le Afrikawaardes vervreem raak nie. Die ZCC was van die staanspoor af ’n kerk wat ooreenstem met Henry Venn* se visie van ’n onafhanklike kerk wat sigself kan be­stuur, self kan onderhou en self kan uitbrei (Kyk ook: Drie-selwe-beweging).

Lekganyane het oplossings gebied vir talle Afrikane wat hulle in ’n situasie van gespletenheid bevind het, gedurig aan die huiwer tussen Afrikagodsdiens en die Wes­ter­se (Christelike) kultuur*. Onder sy leierskap kon hulle Afrika-Christene wees eer­der as swart Westerse Christene. Die ZCC het ’n geestelike tuiste geword vir Afrikane wat die sendingbenadering van sommige dat ’n mens jou identiteit moet ontken, verwerp het ten gunste van die oortuiging dat ’n mens jou kultuur moet behou en “verchristelik”. Lekganyane het mense se belange ter harte geneem, omgesien na dié wat heksery gevrees het, siekes genees en hongeriges gevoed.

Sidebar