LIBERALISME

LIBERALISME is breër sin ’n ruimdenkende, vrye, selfs vrysinnige houding op ekonomiese, politieke, godsdienstige en kulturele gebied. Die klassieke liberale Protestantisme* het sy begin in Duitsland in die middel van die 19de eeu gehad. Dit kan bestempel word as die behoefte om die teologie* in lyn met die menslike situasie van ervaring en van kultuur* te bring. Die Christelike geloof moet met ander woorde vir die rede meer aanvaarbaar wees en moet in die moderne werklikheidsverstaan van vooruitgang en humaniteit pas. Dit het gebeur deur enersyds sekere klassieke oortuigings te verwerp (soos die leer* van die erfsonde*) en andersyds deur sekere Bybel­se* gegewens nuut te interpreteer (soos die meer menslike verstaan van Jesus*). Die ge­volg is dat ’n rekonstruksie van die Christe­like geloofsbelydenis daargestel is. Dit gaan vir die liberale teologie nie soseer oor wie Jesus was nie, maar eerder oor wat Hy as mens gedoen het. ’n Verskuiwing in die teologie vind plaas van die dogmatiek* na die etiek* toe, van ’n nadenke oor Jesus na ’n navolging van Jesus toe.

Friedrich Schleiermacher* (1768–1834) het die geloof* as die abstrakte gewaarwor­ding van die mens se diepste ervaring van afhanklikheid gesien. En Paul Tillich* (1886–1965) het ’n metode van korrelasie daar­gestel waarmee hy die Christelike ge­loof in gesprek met die menslike kultuur van sy dag wou bring.

Kritiek teen die teologiese liberalisme is drieërlei van aard: dit plaas te veel klem op die mens se godsdienstige ervaring, dit heg te veel waarde aan die menslike kultuur, en dit offer te maklik belangrike Christelike leerstellings op. Tog moet bygesê word dat libe­ralisme ook ’n positiewe kant het deurdat dit ’n bepaalde openheid teenoor ander se standpunte openbaar en die voorlopigheid van eie insigte dus erken.

Sidebar