LE ROUX, NATANIËL

LE ROUX, NATANIËL (1962–) kom van die Swartland (Malmesbury). Op skool was hy Niël, al is sy doopnaam Nataniël. Hy sê dat sy kinderjare “afgryslik” was “oor die hele mensgemaakte struktuur, die sisteem waarin jy as kind geen keuse het nie, die skool, die samelewing, die tradisies. Ek het my destyds al voorgeneem dat ek kinders ánders sal hanteer, met respek en waardig­heid.”

Van 1981 tot 1984 het hy musiek aan die Konservatorium by die Universiteit van Stellenbosch studeer. Sy loopbaan het in 1986 met die vrystelling van sy eerste kortspeelplaat, Maybe Time, begin. Sedertdien het daar talle enkelsnitte, albums en musiekvideo’s van hom verskyn. Hy het nagenoeg 50 verhoogproduksies geskryf en opgevoer, is ’n gesogte rubriekskrywer in vrouetydskrifte en het verskeie  boeke geskryf. Hy is twee keer met die Dalroprys vir sy werk vereer. Hy besit sy eie produksiehuis – die Nataniël House of Music.

Hy het ’n passie vir goeie kos en sy kookboeke asook kookprogramme op radio en televisie is baie gewild.

Nataniël, bekend vir sy droë humor en skreusnaakse sêgoed, sê dat sy lewe en werk grondig beïnvloed en verander is deur mense wat in nood verkeer. “Ons mag onsself nie deel van ’n ontwikkelende samelewing of enige godsdienstige struktuur sien as ons nie voortdurend van onsself gee nie.” Hy sê hy is “uitgebaklei”. “Ek wil nou op my manier, ook deur my shows, vir mense bietjie vreug­de, bietjie magic in hulle lewe sit … Ek gló in God, in die bóódskap van die Bybel. Die fisiese detail, die historiese goeters, die hele geredekawel oor dit of dat maak g’n verskil aan my geloof nie. Ek weet dat God ’n plan het met my lewe, dit gaan oor sy goedheid, oor menslike swakheid, oor ne­derig te lewe” (LIG, Junie 2006).

 

Sidebar