LE SUEUR, FRANCISCUS (FRANCOIS)

LE SUEUR, FRANCISCUS (FRANCOIS) (1700–1758) is in die Nederlandse provinsie Gelderland gebore. Hy het uit ’n Hugenote*-familie gestam, van wie sommige predikante van die Waalse Kerk in Nederland was. Ná Le Sueur se teologiese studie aan die Universiteit van Leiden is hy in 1729 deur die Klassis Amsterdam na die Kaapse gemeente* beroep, waar hy in Oktober 1729 sy intreepreek gelewer het.

Le Sueur het ’n besondere belangstelling in die bearbeiding van die lidmate in die buitedistrikte gehad en deels deur sy bemoeiing is twee nuwe gemeentes, Zwart­land en Roodezandt, gestig. Hy beywer hom ook vir die totstandkoming van ’n klassis- (rings-*) vergadering van die Kaapse gemeen­tes en was in 1746 die voorsitter van die eers­te sitting – destyds bekend as die Ge­kombineerde Kerkvergadering. In 1744 is Le Sueur weens swak gesondheid verplig om op betreklike jong ouderdom sy emeritaat te aanvaar. Hy bied egter steeds sy diens­te aan waar nodig, en woon ook nog klassis-vergaderings by. Hy is op 1 Mei 1758 op die plaas Ekelenburg by Ron­de­­­bosch oorlede.

Vir verdere lees: SP Engelbrecht 1952. Die Kaapse predikante van die sewentiende en agtiende eeu. Kaapstad, Pretoria: HAUM-JH de Bussy.

Sidebar