LENA VAN GENADENDAL

LENA VAN GENADENDAL. Toe die eerste buitelandse sendeling aan die Kaap, Georg Schmidt* van Hernhutt* in Duits­land, in 1637 onder die Khoekhoen* by Ba­vi­aanskloof (vanaf 1806 bekend as Ge­nadendal*) begin werk het, het hy hulle onder meer leer lees. In Februarie 1739 het ’n vrou na hom toe gekom en gesê: “Ek kan nie meer hier bly nie.” “Waarom?” wou hy weet. “Al die mense is teen my,” het sy geantwoord en haar leesboek aan Schmidt teruggegee. Sy het egter ’n paar dae later weer na die skool teruggekeer. Haar naam was Vetie, maar Schmidt het haar Vehettge of Vehethgien genoem. In 1742 het hy haar as Magdalena gedoop en sy het as “Lena” bekend geword.

Toe Schmidt Baviaanskloof in 1743 verlaat het vanweë opposisie deur die Kaapse Kerk* teen die Morawiese* sending*, het Lena na Sersantsrivier getrek. Daar het sy volgehou om saans vir almal huisgodsdiens te hou. Sy het Sondae steeds na Baviaanskloof toe gegaan en het onder ’n peerboom wat deur Schmidt aangeplant is, uit die Nuwe Testament* gelees, gebid en daar is saamgesing. Vyftig jaar later, toe Schmidt se opvolgers Marsveld, Schwinn en Kühnel in Desember 1792 aan haar voorgestel is, was sy al swak en kon nie meer lees nie. Sy het egter nog haar Nederlandse Nuwe Testament besit en een van haar leerlinge het vir die besoekers daaruit gelees. (Kyk ook: Tikkuie, Ve­hettge.)

Sidebar