LENIN, VLADIMIR ILJITS

LENIN, VLADIMIR ILJITS (1870–1924) was vroeg reeds as rewolusionêr betrokke by die groeiende verset teen die Russiese tsaristiese bewind. Lenin is geïdentifiseer as ’n gevaar vir die staat. Hy is nietemin toegelaat om sy regstudie aan die Universiteit van St Petersburg te voltooi. Hy is in 1895 gearresteer en na Siberië verban. Hy verlaat Rusland in 1900 en bly agtereenvolgens in Brussel, Parys, Londen en Genève. Hy was ’n ywerige skrywer van rewolusionêre pamflette en stukke in die koerante Iskra (Die Vonk) en Vperyod (Voorwaarts). Lenin het ’n groot bydrae gelewer om Karel Marx* se idees tot ’n rewolusionêre ideologie* te ontwikkel en het self in 1903 die leier van die militante Russiese Sosiaal-Demokratiese Party – die Bolsjewiste – geword. Lenin help met die organisering van die mislukte opstand in St Petersburg in November 1905 waarna hy na Finland vlug. Hy het van 1907 tot 1917 in Switserland gewoon vanwaar hy gebeure in Rusland en Europa noukeurig gevolg het.

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog* keer Lenin na die onbestendige tsaristiese Rusland terug en neem deel aan die rewolusie in Maart 1917 waardeur die Konstitu­sioneel-Demokrate aan bewind kom. Hulle sukses laat hom nogeens na Finland vlug, maar hy keer op 23 Oktober terug na St Petersburg om die November-rewolusie te lei. Die Bolsjewiste het toe die mag bekom en die opposisie sistematies begin uitroei. Hongersnood en ’n totale ineenstorting van die ekonomie het gedreig – wat Lenin sy “Nuwe Ekonomiese Beleid” bekend laat stel het. Ná ’n mislukte aanslag op sy lewe in 1918 het Lenin se gesondheid nooit weer herstel nie. Vyf dae vóór sy dood is St Petersburg se naam ter ere van hom na Leningrad verander. Lenin, wie se opvattings in belangrike opsigte téénoor dié van die Christelike geloof* staan en wat op stuk van sake ’n wrede Bolsjewis was, se verset teen die hovaardige Russiese tsaristiese bewind was egter begryplik. Hy het ’n groot impak op die Russiese sowel as die wêreldgeskiedenis gehad.

Sidebar