LENSHINA, ALICE MULENGA MU­BI­SHA

LENSHINA, ALICE MULENGA MU­BI­SHA (1924–1978) was ’n invloedryke – en ook omstrede – inheemse kerkleier wat gedurende die middel van die 20ste eeu duisende volgelinge in Zambië getrek het. Sy het in die Presbiteriaanse Kerk* (Skotse Kerk) opgegroei, maar nadat sy ’n visioen ontvang het, het sy haar eie godsdienstige beweging, wat veral op die uitwissing van heksery in die gemeenskap gemik was, be­gin. In die noordooste van die land en in die Koperstreek het sy volgens haar eie skatting in 1961 reeds 100 000 volgelinge gehad. Nadat sy deur die Presbiteriaanse Kerk ge­skors is, het sy haar eie Lumpa-kerk gestig. Ná die onafhanklikwording van Zambië (1964), het Lenshina in ’n hewige botsing met dr Kenneth Kaunda en sy regerende party beland toe sy en haar volgelinge geweier het om belasting te betaal. Die Lumpa-opstand is met geweld onderdruk. Meer as 7 000 Lumpa-lidmate het in die stryd omgekom en, nadat die kerk onwettig verklaar is, het groot getalle lidmate na die naburige Zaïre gevlug. Lenshina is gearresteer en het vir die volgende 11 jaar lang tye in die gevangenis deurgebring, totdat sy in 1975 finaal vrygelaat is. Vir baie jare daarna het die Lumpa-kerk nog as ’n ondergrondse beweging bly funksioneer.

 

Sidebar