LEO I

LEO I (circa 400-461) is een van die twee pouse* vir wie die geskiedenis die bytitel “die grote” gegee het. Hy is in 400 of kort daarna, waarskynlik in Toskane, gebore. Dekens was destyds die pous se belangrikste uitvoerende beamptes en Leo is in hierdie amp aangestel. Dit is Leo wat Johan­nes Kassianus* aangespoor het om sy boek oor Christus* se menswording te skryf, wat op die vooraand van die Kerkvergadering van Efese (430) verskyn het.

Leo is in 440 tot pous verkies. Sy werk as pous kan onder vier hoofde saamgevat word. Hy het eerstens die ou ketterye* asook die jongste, Monofisitisme*, bestry. Hy het die tradisionele geloof oor Jesus*, een Persoon in twee nature, verder verduidelik in sy beroemde brief aan Flavianus (449), wat as die egte leer* deur die kerkvergade­ring van Chalcedon* (451) aanvaar is. Tweedens was hy terdeë bewus van sy rol as opvolger van die apostel Petrus* in die bewaring van kerklike eenheid. Derdens het hy met Attila, die leier van die Hunne, onderhandel om anderkant die Donou te bly, en met die Vandalekoning Geiserik om Rome nie af te brand nie. Hy was ook ge­heel en al toegewy aan die herderlike ver­plig­tings soos uit sy 123 briewe blyk.

Vir verdere lees: J Hughes 1994. Pontiffs, Popes who Shaped History. Huntington: Our Sunday Visitor.

Sidebar