LEO IX (BRUNO VAN EGUISHEIM-DAGSBURG)

LEO IX (BRUNO VAN EGUISHEIM-DAGSBURG) (1002–1054) is in 1002 in Elsas gebore. As biskop* van Toul het hy sy bisdom deurreis, plaaslike hervormingsi­nodes gereël, en die klooster*lewe hernu. In 1048 is hy deur keiser Hendrik III tot pous* benoem, maar het geweier om die be­noeming te aanvaar voordat dit deur die geestelikes en bevolking van Rome goed­ge­keur is – wat toe ook gebeur het. Sodoende het hy sy voorneme laat blyk om die pousdom van beheer deur die Germaanse kei­ser en die Romeinse adel te bevry.

Hy wou die geestelike en sedelike lewe van die kerk hervorm en hernu. Hiervoor het hy twee strategieë gebruik. In sy vyf jaar as pous het hy só rondgereis dat hy slegs altesame ses maande in Rome deurgebring het. Hy het twaalf sinodes in Italië, Duitsland en Frankryk gehou, waartydens onder meer priesters*2 se buite-egtelike verhoudings en onsedelike gedrag onder gelowiges veroordeel is. Terselfdertyd het hy ’n begin gemaak met wat kort daarna in die kollege van kardinale* sou ontwikkel, dit wil sê ’n internasionale span deskundiges en leiers wat as sy raadgewers die kerk se sentrale administrasie help behartig het. Sy politieke skuiwe asook sy betrekkings met die Oosterse Kerk was minder geslaagd. Hy word deur die Katolieke Kerk* as ’n heilige herdenk.

Vir verdere lees: C Rendina 2002. The Popes, Histories and Secrets. Santa Ana: Seven Locks Press.

Sidebar