LEO X (GIOVANNI DE MEDICI)

LEO X (GIOVANNI DE MEDICI) (1475–1521) is in Florence gebore, en is deur sy pa vir ’n kerklike loopbaan bestem, en daarvoor opgelei. In 1488 is hy deur pous Julius II tot kardinaal* benoem. Vanaf 1500 het hy in Rome gebly waar hy ’n beskerm­heer van beeldende kunste, musiek en teater geword het. Hy was baie gewild as een van die beleefdste en vriendelikste kardinale. Op 9 Maart 1513 is hy tot pous* verkies. Sy persoonlike sedes is bo verden­king, maar beïnvloed deur die tydgees, was hy ’n plesiersoeker en het weelderig gelewe. Hy het die Vatikaan* in ’n renaissanciaanse hof omskep. Die bou van die Sint Petrus-basiliek, die beplanning van ’n kruistog*, die strewe om Italië van buitelandse oorheer­sing te bevry, sy internasionale skuiwe, en sy lewenswyse het veroorsaak dat hy in ’n voortdurende geldnood verkeer het. Om die bouwerk aan Sint Petrus-basiliek te finansier, het hy die bestaande verhande­ling van aflaatbriewe* op onsmaaklike wyse uitgebrei. Dít het tot Martin Luther* se protes, en later opstand, gelei wat, weens pous Leo se gebrek aan begrip, kerkskeu­ring tot gevolg gehad het.

Vir verdere lees: J Hughes 1994. Pontiffs, Popes who Shaped History. Huntington: Our Sunday Visitor.

Sidebar