LEONARD, NANGOLO AUALA

LEONARD, NANGOLO AUALA (1908–1983) was die eerste inheemse biskop* van die Lutherse* Kerke, en ook die eerste kerkleier van Namibië (indertyd Suidwes-Afrika) wat in die openbaar teenkanting teen apartheid* uitgespreek het (1963, 1967, 1971).

Leonard is gebore in ’n Christen-ouerhuis, het in diamantmyne gewerk, is opge­lei as onderwyser (Oniipa en Augustineum 1931–1934) en was dosent aan die Oniipa-opleidingskollege (1935–1949). Ná sy oplei­ding as evangelis (1941) en predikant* (1949) aan die Paulinum-seminarium, het hy pastor geword in die Oniipa-gemeente, terwyl hy steeds klasgegee het aan die oplei­dingskollege. Hy was sekretaris van die Evan­­geliese Lutherse Ovambo-Kavango Kerk, (ELOK) (1951), opsiener van die Ondonga-afdeling (1958), en afgevaardigde na kerklike vergaderings in Afrika en Europa. Hy het moderator* (1960) en die eerste biskop* (1963) van die ELOK-sinode geword. Hy was uitvoerende raadslid van die Lutherse Wêreldfederasie (1963), en het ’n eredoktorsgraad in teologie* van die Universiteit van Helsinki ontvang (1967).

Vanaf 1963 voer hy gesprek met die Suid-Afrikaanse regering oor “sy mense” en die Suid-Afrikaanse beleid. In twee memoranda spreek hy kritiek uit oor die Odendaal-plan – die Namibiese variant van die tuisland-/apartheidstelsel (1964, 1967). In 1971 word hy mede-opsteller van ’n ope brief aan die Suid-Afrikaanse eerste minister, John Vors­ter*, waarin hy teenkanting teen apartheid uitspreek en inskakeling van Namibië by Suid-Afrika afwys. Dié brief het daartoe bygedra dat Suid-Afrika oor die politieke toekoms van Namibië na die onderhandelingstafel teruggekeer het.

Vir verdere lees: GL Buys en SVV Nam­bala 2003. History of the Church in Namibia – An Introduction. Windhoek: Gamsberg-Macmillan. JJ Kritzinger 1972b. Sending en Kerk in Suidwes-Afrika. DTh-proefskrif, Universiteit van Pretoria. C-J Hellberg 1979. A voice of the voiceless – the involvement of the Lutheran World Federa­tion in Southern Africa, 1947–1977. Lund: Skeab Verbum. A Shejavali 1970b. The Ovambo-Kavango Church. Helsinki: Kaup­pa­kirjapaino.

Sidebar