LEROUX, ETIENNE (STEPHEN LE ROUX)

LEROUX, ETIENNE (STEPHEN LE ROUX) (1922–1989) is een van die grootste romanskrywers wat Afrikaans* nog opgele­wer het. Hy is Stephanus Petrus Daniël ge­doop en CJ Langenhoven* was sy peetpa. Leroux se roman-ouevre bestaan uit drie trilogieë en twee romans, as ’n mens die fak­simi­lee-uitgawe van sy laaste, onvoltooi­de roman buite rekening laat.

Die roman 18-44 is ’n briefroman, in Na’va is die hoofkarakter dood voor die roman begin, en in Magersfontein, o Ma­gers­­fontein skryf hy ’n historiese roman wat nie alleen sosiale en politieke kom­men­taar lewer nie, maar ook uitkring tot ’n roman oor universele geweld.

Leroux is dikwels beskuldig, ook van kerk­like kant, van immorele temas. Hierdie beskuldiging het berus op oningeligte en oppervlakkige interpretasies. Die meesterstuk Sewe dae by die Silbersteins (te midde van groot kerklike en ander protes bekroon met die Hertzogprys) het veral deurgeloop. In werklikheid is hierdie roman ’n enorme aanklag teen die verval van die samele­wing. Dit is geen dekadente roman nie; inteendeel, dit spreek dekadensie aan soos geen ander roman in Afrikaans nie. Een vir Azazel, die opvolg van Sewe dae by die Silbersteins, ontwikkel die tema van die sondebok, die bok van die woestyn. In hierdie roman met sy diep religieuse (Kyk by: Religie) tema­tiek, word die offer*tema uitvoerig ondersoek.

Leroux se werk is ryk aan Kabbalistiese verwysings en werk ook dikwels met die konsep van die Wandelende Jood, tot ’n hoog­te­punt gebring in Onse Hymie, ’n ro­man wat ook die offertema tot ’n sluitstuk voer.

Deur dit alles bly hy die nederige “knolskrywer” wat hoop dat hy met sy skryfwerk slegs ’n vonk van God se ewigheid kan vasvang en weergee. In die mitologiese roman IsisIsisIsis kom die religieuse tematiek sterk deur en verwerk Leroux godsdienstige konsepte in ’n netwerk waar die Christelike pers­pektief steeds die botoon voer.

Aan die slot van die begrafnisroman Na’va kyk die outeur in die Oog van die Son, tegelyk Ra*, die Egiptiese songod, en God, Jahwe*, die ewige Lig. Aan die einde van Onse Hymie speel die groot deernis met die mens deur. Alleenlik ’n slordige lesing van die kuns van hierdie meester van die woord kan die diepe Godsbesef en die intense menslikheid verkeerd lees en selfs glad nie raaksien nie.

Sidebar