LEROUX-VAN DER BOON, MAR­ZANNE

LEROUX-VAN DER BOON, MAR­ZANNE (1940–) is in Somerset-Wes gebore. Sy het gewerk as onderwyseres, skrywer en vigsberader. Van 2001 af is sy betrokke by Israel*7, besoek die land dikwels en het verskeie romans daaroor geskryf. Sedert 1974 het sy nagenoeg 25 romans en ’n kortverhaalbundel gepubliseer, waarvan heelparty herhaalde herdrukke beleef het. Sy het ook verskeie literêre toekennings ontvang. Haar werk van die afgelope twee dekades word gekenmerk deur aktualiteit, gesetel in die problematiek van die jare van apart­heid* en jongmense se stryd om aan hulleself daaroor rekenskap te gee. Sy betrek eietydse vraagstukke soos homoseksua­liteit*, vigs* en die ontmensliking wat meegebring is deur die vorige politieke bestel, steeds binne die raamwerk van ’n diepliggende Christelike begrip. Elemente van die innerlike reis en ontdekking van die self, kenmerk haar beste werk. In Klaprose teen die wind (1992) – die eerste werk in Afrikaans oor vigslyers – skryf sy met sensitiwiteit en insig oor die vrese en eensaamheid wat hierdie siekte meebring. In Granate bloei in Jerusalem (2003), wat in 2003 bekroon is met die ATKV-prys vir fiksie, word die Joodse* geskiedenis verken en worstel ’n gevormde Christen met vrae oor Christus* se Godheid.

Sidebar