LEVIETE EN PRIESTERS

LEVIETE EN PRIESTERS. Hoewel dit nie moontlik is om die vroeë geskiedenis van die priesterskap in Israel* te rekonstrueer nie, kan aanvaar word dat dit ’n instelling was wat redelik vroeg in Israel se godsdiens na vore gekom het. Dit was nie ’n unieke instelling in die Ou Nabye Ooste nie, aangesien ander volke ook soortgelyke instellings gehad het.

Aanvanklik (soos weerspieël in tekste soos Eks 32, Deut 17 en 33, en Rig 17) was die term “Leviet” ’n algemene term wat vir alle priesters*1 gebruik is. Die Leviete het belangrike funksies in die kultiese gods­diensbeoefening vervul – veral in die tydperk voordat die godsdiens in die tempel* in Jerusalem* gesentraliseer is. Levitiese priesters het by kleiner heiligdomme op die platteland gedien. Leviete het volgens Deut 17:18 en 33:10 ook die funksie vervul om die volk in die wet* te onderrig.

Met die sentralisering van die kultus* in Jerusalem*, het daar egter ’n magstryd begin ontwikkel oor wie eintlik die belangrikste deel van die priesterskap is. Algaande het die priesters wat afstammelinge van Sadok* was, al hoe prominenter begin word. Gedurende hierdie tydperk begin daar ook ’n skeiding kom in die gebruik van die terme “priester” en “Leviet”, met eersgenoemde term wat toenemend met die Sa­do­kitiese deel van die priesterskap geasso­sieer word. Die funksies van die Levitiese deel van die priesterskap is toenemend af­ge­water totdat hulle slegs sekere onder­geskikte funksies (soos deurwagters, skoonmakers) kon vervul (soos weerspieël in die visioene wat deur Esegiël* uitgespreek is – vgl Eseg 44:10-14). Hierdie situasie duur voort tot ná die ballingskap*.

Tydens die ballingskap is die godsdiens­leiers uit Jerusalem (hoofsaaklik Sadokitiese priesters) ook weggevoer na Babilon*. Tydens hierdie magsvakuum begin die Le­vi­tiese priesterskap weer na vore kom, aangesien baie Levitiese priesters nie in bal­ling­skap weggevoer is nie. Met die terugkeer van die ballinge na Jerusalem, het die spanning wat reeds voorheen geheers het, tot ’n klimaks ontwikkel. In die vroeë na-ballingskapse tydperk woed daar ’n fel magstryd tussen die Sadokitiese priesters en die Leviete om die beheer van die kultus van die herboude tempel in Jerusalem.

Dit blyk egter ook uit die Kroniekboeke* dat daar dele van die priesterskap was wat ’n versoenende houding ingeneem het. Hierdie boeke, wat in die laat-ballingskapse tyd tot stand gekom het, gee weer aan die Leviete prominente funksies in die kultus, sonder om te argumenteer dat hulle belang­riker sou wees as die res van die priesterskap. Die toonaard van hierdie boeke is eerder versoenend, sonder om ’n hiërargie van priesters te probeer skep. Dis onseker hoe wyd hierdie versoenende houding invloed uitgeoefen het. Dit is egter uit die Nuwe-Testamentiese* gelykenis* van die barmhartige Samaritaan* (Luk 10:32) duidelik dat Leviete en priesters in daardie stadium beide as prominente deel van die godsdiensleiding beskou is. (Kyk ook: Numeri.)

Vir verdere lees: GN Knoppers 1999. “Hierodules, Priests, or Janitors? The Levites in Chronicles and the History of the Israelite Priesthood” in: Journal of Biblical Literature 118/1, 49-72.

Sidebar