LEVITIKUS (BYBELBOEK)

LEVITIKUS (BYBELBOEK) is die derde boek in die Pentateug* en bestaan oorwegend uit wetgewing wat by twee geleent­hede deur verhale onderbreek word (hoof­stuk 8–10 en 24). Die naam kom van die Latyn af waar die boek Liber Leviticus genoem word. Die naam is effens ironies omdat die Leviete* nie eintlik ’n noemenswaardige rol in die boek speel nie; in kontras met Numeri*, waar ons veel meer van hulle hoor. In Hebreeus* word die eerste woord in die Hebreeuse teks as naam gebruik wat letterlik vertaal kan word met: “En hy het geroep.”

Die hele boek speel af op die berg Sinai* waar Israel* aangekom het in Eks 19:1 en waar­vandaan hulle weer sal vertrek in Num 10:12. Lev 1–7 het te maak met wetge­wing oor die verskillende soorte offers* en loop uit op die eerste verhaal in Lev 8–9 waar vertel word hoe die priesters*1 (dit wil sê Aäron* en sy seuns) gewy word en met hulle dienswerk in die tabernakel* begin. In Lev 10 gebruik die twee oudste seuns van Aäron, Nadab* en Abihu*, “ongeoorloofde vuur” en sterf. Twee ander seuns van Aäron, Eleasar* en Itamar*, is daarna in hulle plek aangewys. In Lev 11–15 volg nog ’n klomp wette wat te doen het met rein* en onrein*. Lev 16 sluit weer by die einde van hoofstuk 10 aan en spel voorskrifte uit vir die Groot Versoendag*.

Hoofstuk 17–26 word deur sekere ge­leerdes as ’n aparte versameling beskou en word dikwels die “heiligheidswetgewing” genoem, omdat die refrein “… wees heilig, want Ek die Here jou God is heilig” (Lev 19:2) dikwels daarin voorkom. Lev 17 gee voorskrifte deur oor die offerplek en die bloedverbod. Daarna vorm 18–20 ook ’n soort van ’n versameling, met hoofstuk 18 en 20 (wat gaan oor verskeie seksuele ta­boes) aan die buitekant en hoofstuk 19 in die middel. Sekere verse uit eersgenoemde (18:22 en 20:13) word dikwels aangehaal in die debat oor homoseksualiteit*. Hoofstuk 19 is ’n mengsel van uiteenlopende voor­skrif­te waarvan sommige aan die Tien Gebooie* herinner (bv vers 3, 4, 11, 12) en ander weer te doen het met landbouvoorskrifte (bv vers 9-10, 19). In die middel van hierdie hoofstuk vind ons vers 18, “… jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, wat deur Jesus* aangehaal word (Matt 22:34-40; Mark 12:28-34 en Luk 10:25-28). Op hierdie drie hoofstukke volg twee hoofstukke (21–22) wat spesifiek fokus op die priesters.

Lev 23 gee ’n opsomming van die belang­rikste feeste* vanaf die Sabbat* tot die Loofhuttefees* en in Lev 24:10-23 vind ons die tweede verhaal wat vertel van ’n man wat God laster. Lev 25 is seker die bekendste hoofstuk in die boek wat gaan oor die Sabbatsjaar* en die Jubeljaar* (1983-Verta­ling: “hersteljaar”). Hierdie hoofstuk was veral in die nuus rondom die draai van die eeu toe dit gebruik is as ondersteuning vir die afskryf van die Derde Wêreldlande se skuld. Lev 26 sluit die boek af met “seën en straf” wat Israel moes aanmoedig om by die voorskrifte te bly, en daarna volg hoofstuk 27 wat dit het oor loskoopwaardes en deur die meeste geleerdes as ’n later toevoeging verstaan word.

Die meeste geleerdes argumenteer dat die boek sy finale vorm aangeneem het in die tyd van die tweede tempel*2, dus ná die ballingskap*, en dat hierdie voorskrifte ons eintlik meer vertel van hoe die tempeldiens by die tweede tempel ingerig was. Die tradisionele siening dat Moses* die outeur was, word nie meer aanvaar nie; dit staan in elk geval ook nêrens so in die teks geskryf nie. Levitikus vorm ook deel van die sg priesterlike geskrifte van die Pentateug. Die doel met hierdie boek was waarskynlik om aan die Jode* van die tweede tempel te verduidelik waarom die ballingskap* gebeur het (vgl 26:44-45) en hoe so iets in die toekoms voorkom sou kon word (26:3-13). Juis die feit dat dit lyk asof Lev 26 reeds die ervaring van balling­skap ken, is ’n belangrike hoeksteen in die argument vir ’n na-ballingskapse datering.

Daar is natuurlik geleerdes, veral Joodse* geleerdes, wat aanvoer dat hierdie boek reeds saamgestel is in die tyd van die ko­nings. Vir hulle was hierdie soort rituele toe reeds werklikheid voordat die ballingskap plaasgevind het.

Hoewel Levitikus nie die interessantste boek is nie, bly dit ’n belangrike boek om­dat dit ons baie vertel van belangrike as­pek­te van Israel se godsdiens soos offers* (veral 1–7) en rein en onrein (11–15). Die Judaïsme* van Jesus se tyd is ook sterk beïnvloed deur die voorgeskrewe praktyke in hierdie boek. Van teologiese belang is veral die uitsprake in die boek oor God se heiligheid.

Vir verdere lees: BA Levine 1989. Levi­ticus (JPS Torah Commentary). Philadel­phia: Jewish Publication Society. J Milgrom 1994. Leviticus: A Book of Ritual and Ethics (Continental Commentary). Minneapolis: Fortress Press.

 

 

 

Sidebar