LEWE (BEGIN VAN MENSLIKE)

LEWE (BEGIN VAN MENSLIKE). Nu­we medies-tegnologiese moontlikhede bring hierdie saak na vore. Die wetenskaplike feite is eenvoudig: Wanneer ’n sperm- en eiersel saamsmelt, ontstaan ’n enkele, nuwe en geneties totaal unieke sel (wat reeds geslag, bloedgroep ens bevat) waaruit die hoogs komplekse mens in ’n kontinue lyn ontwikkel, sonder dat gene­ties en biologies iets bygevoeg word. Vanaf ongeveer die sesde dag vind innesteling plaas, vanaf die elfde tot die dertiende dag verskyn ’n primitiewe neurologiese stelsel en vanaf die veertiende dag die eerste wisselende hartsametrekkings.

Mense interpreteer egter hierdie feite verskillend, afhangende van hulle mensbe­skouing. Omdat baie dit uit naïewe waar­neming moeilik vind om menslike status aan ’n sel toe te ken, verval hulle in die uit­ge­diende en onbybelse dwaling van dualis­me* tussen gees en stof: eers is die mens net stof en later eers gees. Vir hierdie “later” is daar geen enkele bewys nie, of dit nou ge­stel word met geboorte, of 28 weke, of 20 weke, of 1 000 g of 750 g, of breinaktiwiteit (5 weke) of breinaanwesigheid (14 dae). Die eerste probleem is dat die inherente status van die embrio/fetus só afhanklik gemaak word van wisselende eksterne waarne­mingsvermoëns, en tweedens dat vergeet word dat elke ontwikkeling noodsaaklikerwys reeds in die voorafgaande aanwesig was. Die bevrugte eiersel is nie bloot potensiële lewe nie – dit is reeds bestaande mens­like lewe met alle verdere potensiaal inge­sluit. Dit sál ’n mens word tensy verhinder deur eksterne faktore. Teenoor die dua­listiese siening moet gehandhaaf word dat die mens ’n onverdeelbare eenheid en totaliteit is en dat hierdie eenheid slegs kan bestaan as dit reg van die begin af daar is, hoe moeilik ons ons dit ook kan voorstel – dis inderdaad die “wonder” van nuwe lewe. Gelowiges aanvaar daarmee ook die Gods­verhouding van die begin af (Luk 1–2; Ps 139:130) en weet dat nuwe lewe ’n Gods­gawe is wat ten beste gekoester en beskerm moet word.

Sidebar