LEWE (REG OP, RESPEK VIR)

LEWE (REG OP, RESPEK VIR). Respek vir die lewe sluit nie alleen die menslike persoon se Goddelike roeping* van respek teenoor sy of haar eie lewe in nie, maar ook die respek wat God van ons vra vir die lewe van die medemens en nie-menslike lewe. Ons lees in Gen 1:27 dat God die Skepper* van die mens is en dat Hy lewensasem in die mens blaas (Gen 2:7). Hierdie respek van God vir die menslike persoon, word voortgesit in God se versoeningswerk* deur Christus* – wat nie net egte menslike lewe aangeneem het nie, maar die versoening volbring in sy lewe, dood en opstanding*. Die respek wat God vir menslike lewe vra, word die duidelikste verwoord in die sesde gebod, “Jy mag nie doodslaan nie” (Eks 20:13). Vraagstukke soos in vitro-bevrug­ting*, menslike kloning*, aborsie*, die dood­straf*, genadedood* en deelname aan oorlog*, stel ons vandag voor ernstige be­sinning oor die begin en beëindiging van menslike lewe. Die agting vir die menslike lewe het egter nie net te maak met die begin en einde van menslike lewe as so­danig nie. Die Ou* en Nuwe* Testament heg ook waarde aan sake soos mense se woonplek, kos, gesondheid*, werk en rus. Elke mens het die reg tot basiese noodsaaklikhede soos kos, huisvesting, gesondheidsorg en opvoeding* (Kyk by: Menseregte.)

Christelike besinning oor die respek vir die lewe het nog altyd eensydig gekonsentreer op die respek vir menslike lewe. Toenemend word ons respek ook gevra vir die lewe van plante en diere. Die opdrag van die mens om op die regte manier oor die aarde te heers (Gen 1:28), word al dringender in ’n tyd waarin ons al hoe meer bewus word van die disrespek wat heers teenoor ons natuurlike omgewing (Kyk by: Ekologie en godsdiens).

Sidebar