LEWENSVERWAGTING

LEWENSVERWAGTING. Navorsers van ’n internasionale konsortium gelei deur die Universiteit van Washington se instituut vir gesondheidsmetriek, het in 2015 bekend gemaak dat mense sedert 1990 wêreldwyd meer as ses jaar langer leef, maar die lewensverwagting in Suid-Afrika het afgeneem. In 1990 was die gemiddelde lewensverwagting van Suid-Afrikaanse mans 60,46 jaar en van vroue 68,87. In 2013 was die gemiddelde lewensverwagting van mans 57,67 jaar en van vroue 63,01. Statistieke Suid-Afrika raam die lewensverwagting by geboorte op 62,5 jaar (2015). Wêreldwyd het die lewensverwagting vir albei geslagte met 6,2 jaar toegeneem – van 65,3 jaar in 1990 tot 71,5 jaar in 2013. Die gesonde lewensverwagting neem ook toe, maar nie soveel soos die lewensverwagting ongeag die gesondheidstoestand nie. Mense se gesonde lewensverwagting by geboorte het wêreldwyd met 5,4 jaar toegeneem – van 56,9 jaar in 1990 tot 62,3 jaar in 2013. Die kortste gesonde lewensverwagting wat in 2013 geraam is, is Lesotho se 42 jaar, en die langste Japan se 73,4 jaar.

 

Sidebar