LEWIS, CLIVE STAPLES

LEWIS, CLIVE STAPLES (18981963) is in Belfast, Ierland, gebore. Sy ma is oorlede toe hy nog ’n kind was. Hy is hoofsaaklik tuis onderrig. Hy was ’n soldaat in die Eerste Wêreldoorlog*, waartydens hy verwond is. In 1918 het hy begin studeer aan die University College in Oxford, waar hy in 1924 ’n lektoraat gekry het. In 1925 is hy by Magdalen College aangestel. Daarna het hy Oxford verruil vir Cambridge, waar hy professor in Middeleeuse en Renaissance-lite­ratuur was (19541963). Lewis, wat in ’n Christenhuis grootgeword het, het in sy jeug sy geloof* afgesweer, maar het hom iewers tussen 1929 en 1931 bekeer*. Hy vertel die verhaal in Surprised by Joy (1955). Hy was getroud met Joy Gresham. Haar dood weens kanker in 1956 het aanleiding gegee tot een van sy mees sensitiewe boeke, A Grief Observed (1961) – sy tweede outobio­grafiese werk. Ander belangrike titels sluit in The Problem of Pain (1940; ’n Christelike beskouing van lyding*), Miracles (1947) en The Screwtape Letters (1942; briewe oor ver­soeking deur ’n senior duiwel van sy junior). Laasgenoemde het, saam met Mere Christianity (1952), vir Lewis groot roem besorg. Hy het ook vir kinders geskryf: die Narnia-verhale (1950-1956), oor ’n feitelike én simboliese wêreld.

Sidebar