LIEFDE (SOORTE)

LIEFDE (SOORTE). Liefde is die beskrywing van die karakter van God, die optrede van Christus* en dit wat God van ons verlang (Kyk ook: Liefdesgebod, en: Etiek van Christelike liefde). Kernagtig word bely: “God is liefde” (1 Joh 4:8, 16). Johannes ver­klaar dat Christus vir ons kom wys het hoe God is (Joh 1:18; 14:9). As beelddraers* van God is ons geroep om sy liefde te reflekteer en “gelykvormig” aan Christus te word (Rom 8:29 en 2 Kor 3:18). Hierdie liefde is andersoortig (1 Kor 13) as die gewilde sentimentele liefde.

Hoewel ons woorde in hulle verband moet verstaan, is die woordkeuse vir “lief­de” in die Bybel* veelseggend. Uit die Griek­se* woorde vir liefde blyk verskillende vorms van liefde en die besondere verstaan van God se liefde. Daar is storge (gesinsolidariteit), philia (kameraadskap en vriendskapsliefde), eros (romantiese en seksuele* liefde) asook agape (selfgewende liefde). Die Nuwe-Testamentiese skrywers het ten spyte van die rykdom van philia dit min gebruik en agape verkies. Agape verwoord God se guns, sy getrouheid en vergifnis teenoor sy volk sowel as sy bekendmaking deur Chris­tus.

Omdat God ons eerste liefhet (bv Rom 5:8), moet ons Christus se opofferende liefde nadoen (bv Ef 5:1-2). In alle verhoudings moet hierdie selfgewende liefde die deurslag gee.

Die liefde tussen man en vrou durf nie meer volgens die antieke kultuurpatroon ge­grond te wees op die man se eienaarskap van en alleenbeskikking oor sy vrou nie. Die Christelike huwelik* het net een Here – Jesus* Christus. Daarom geld “onderdanig­heid aan mekaar” (Ef 5:21).

Vanweë die afwesigheid van eros in die Nuwe Testament, die Heilige Gees* se betrokkenheid by Jesus se verwekking en die teenmekaarstelling van “vleeslike” en “Geestelike” bestaanswyses by Paulus*, is sek­suele liefde deur sommige met sonde* vereenselwig. By Paulus is die liggaamlike egter nie minderwaardig soos by sekere Griekse denkstromings nie – onder andere omdat die opstanding* ook liggaamlik sal wees. Die seksuele is deel van God se goeie skepping wat waardeer en beskerm moet word. Dit is nie net vir voortplanting be­doel nie. In Hooglied* word die seksuele ter wille van genot besing.

Selfgewende liefde moet ook ’n verskil aan die ouer-kind- asook die werkgewer-werknemer-verhouding maak wat in antieke kulture as magsverhoudings inge­rig is (bv Ef 6:1-9).

Die liefde in die nuwe Christelike ge­meenskap moet toon dat die “eindtyd” al­reeds aangebreek het – al is dit nog nie vol­kome nie. Die skeiding tussen mans en vroue, slawe* en vrymense, Jode* en Grieke is opgehef (Gal 3:28; Kol 3:11; Ef 2:15). (Kyk ook: Bergrede en Liefdesgebod ).

Vir verdere lees: Stanley J Grenz 1997. The Moral Quest: Foundations of Christian Ethics. Downers Grove: IVP.

Sidebar