LIEFDESGEBOD

LIEFDESGEBOD is die kortnaam vir die samevatting van God se wil in die Ou Testa­ment* deur Jesus* Christus* (Matt 22:37-40; Mark 12:28-34; Luk 10:25-28). Hoewel dié samevatting al in die Ou Testament bekend is (Deut 6:4-5; Lev 19:8; Miga 6:6-8), radi­ka­liseer Jesus die liefde* as God se wil. Hierdie dubbele liefdesgebod word deur Christene as die hoogtepunt van God se morele (Kyk by: Moraal) openbaring beskou.

Veral gereformeerde* gelowiges aanvaar dat wat God doen, belangriker bly as wat ons doen. God het ons eerste lief. Wanneer God se liefde ’n mens tref, is die gevolg twee liefdes in ’n mens se lewe: om God met jou hart, verstand en al jou kragte lief te hê, én om jou medemens (“naaste”) soos jouself lief te hê.

Om God lief te hê, is ’n omvattende leef­wyse om Hom met alles wat jy is en wat jy het – gevoelens, denke, aanleg, vermoëns en besittings – te dien.

Die Jode* van sy tyd het nie met Jesus oor die belangrikheid van liefde teenoor God verskil nie. Oor naasteliefde en Jesus se ver­klaring van wie “naaste” is, het hulle egter heel anders gedink (bv Luk 10:30-37).

Die selfliefde waarvan Jesus praat (“… soos jouself”) is in die geskiedenis van die kerk dikwels deur Christene problematies gevind. Tog is sowel self- as naasteliefde ten nouste aan geloof in God verbind. Selfliefde is om God se liefde vir jou ernstig te neem. Naasteliefde is om God se liefde vir ander ernstig te neem. Selfliefde berus daarop dat elke mens ’n beelddraer* van God (Imago Dei) is. Naasteliefde berus daarop dat ons God in ons lewe moet navolg (Imitatio Dei). Selfliefde is dus nie gegrond op natuurlike selfliefde en selfsug nie. Naasteliefde is daarom nie daarop gegrond dat ander eers meer soos “jouself” moet word – deur dieselfde ontwikkelingsvlak, geloof* of kultuur* te hê – nie. Beelddraers – jyself én medemense – het intrinsieke waarde ongeag ras, geslag, finansiële stand, kultuur, verlede en afkoms.

Die twee liefdesgebooie mag nie van mekaar losgemaak word nie. Hulle bepaal mekaar wedersyds. Die liefde vir God mond uit in die liefde vir die naaste. Die liefde vir die naaste word bepaal deur die liefde vir God. Die egtheid van ’n mens se liefde vir God word aan die egtheid van daadwerklike liefde vir jou naaste getoets (1 Joh 3:11-17; 4:7-21).

Vir verdere lees: André van Niekerk 2001. “Is God veral die God van arm mense?” in: Piet Meiring (red), So glo ons. Vereeniging: CUM.

Sidebar