LIEFDESMAALTYD

LIEFDESMAALTYD. Die Nuwe Testa­ment* verwys net een keer na die “liefdesmaaltyd” of agape (Judas vers 12). Ignatius*, tweede-eeuse biskop van Antiogië, gebruik hierdie naam egter ook. Later kom dit meermale in die kerklike literatuur voor. Oorspronklik was dit waarskynlik een van die name waaronder die Christelike nag­maal* bekend gestaan het. Die naam “lief­des­maaltyd” moes die liefdevolle onderlinge verbondenheid van die deelnemers beklemtoon – ’n feesgeleentheid wat oorspronklik as ’n volle maaltyd gevier is en waartydens die instellingswoorde herhaal is. Die Christelike liefde* is onder meer daarin uitgedruk dat die feesgangers allerhande lewensmiddele saamgebring en dit dan gemeenskaplik geniet het (vgl Paulus* se teregwysing in 1 Kor 11:20-22). Die res is agterna aan behoeftige medegelo­wiges uitgedeel. Uit vrees vir verontheili­ging van die nagmaal, is die agape later van die nagmaal geskei. Dit is nog steeds as volle maaltyd geniet, terwyl die nagmaal verskraal het tot die bloot sakramentele (Kyk by: Sakramente) ge­bruik van brood en wyn. (Kyk ook: Maaltyd van die Here.)

Sidebar