LIGDRAER, DIE

LIGDRAER, DIE was die amptelike kerkblad van die NG Sendingkerk (NGSK), en later van die Verenigende Gerefor­meerde Kerk* (VGKSA).

Die NGSK-sinode van 1904 het besluit om ’n blad te begin, De Zendingkerk, later die Zendingbode. As gevolg van onbetaalde intekengeld is die uitgawe daarvan in 1928 gestaak.

In 1937 is weer op ’n kerkblad besluit. In 1940 het Die Ligdraer, met ds JMN Breedt as deeltydse redakteur, verskyn. In 1946 is besluit dat Die Ligdraer, saam met Die Kerkbode* van die NG Kerk*, die NGSK se amptelike blad sou wees.

In 1975 is ds AC Goliath as eerste voltydse direkteur van publikasies aangestel, wat die redakteurskap van Die Ligdraer ingesluit het. Ná hom was ds David Botha* die re­dak­teur.

Toe die NG Kerk in Afrika* en die NGSK in 1994 verenig het, het die koerant ’n tyd lank as Die Ligdraer/Ligstraal bekend ge­staan, ter erkenning van Ligstraal*, die blad van die NG Kerk in Afrika, wat daarby ingelyf is. Nóg later het die naam verander na Ligdraer, met as onderskrif die naam in SeSotho en in Nguni. Die inhoud, vantevore net in Afrikaans*, was ál meer in Engels en inheemse Afrika-tale.

Die laaste voltydse redakteur was dr PJA Fourie*. Twee jaar ná sy vertrek in 1998 het die blad (toe in ponieformaat) nie meer verskyn nie.

Sidebar